Is jy gereed om deel te wees van ‘n groot kultuurverandering in die NG Kerk? Die afgelope vyftien jaar het die missionale beweging begin grondvat in gemeentes. Al hoe meer gemeenteleiers het begin besef dat die wese van kerkwees is om deel van die missio Dei te wees – deel te wees van God se sending. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook,” het Jesus gesê (Joh 20:21)
Hierdie beweging het nou die punt bereik waar gemeentes wat reeds missionaal is, hulle kennis en vaardighede met die res van die kerk deel. Missionale Ekklesiologie moet nou grondvat in die praxis van Missionale Transformasie.
Die ruggraat van die Netwerk vir Missionale Transformasie word gevorm deur die bestaande netwerk wat deur die Algemene Sinode daargestel is, naamlik:
- Die Netwerk vir Missionale Ekklesiologie
- Die Netwerk vir Gemeentebediening
- Die Netwerk vir Lidmaatbemagtiging
- Die Netwerk vir Erediens en Liturgie
Die voorstel is dat die Jeugnetwerk ook betrek word.
Die bedoeling op die pad vorentoe is dat almal wat voel dat hulle ‘n bydrae kan maak tot die Missionale Transformasie van die NG Kerk hierby deel word van die Netwerk vir Missionale Transformasie.
Indien jy graag betrokke wil raak en bydraes op hierdie blog in die belang van Missionale Transformasie wil lewer, laat asseblief vir Freddie Schoeman (fredschoeman@mweb.co.za) weet.